Riglyne ten opsigte van Grondbesettings 

8.1 Inleiding

Dit is van kardinale belang dat alle grondeienaars en persone in beheer van grond moet weet wat hulle te doen staan in die geval van ʼn grondbesetting. Hierdie dokument is ’n opsomming van die belangrikste voorsorgmaatreëls en voorgestelde optrede. Weens komplekse wetgewing is dit belangrik om regsadvies by ’n praktiserende prokureur in te win, sodra plakkers op grond begin woon.

8.2 Vertrekpunt

Individue het verskeie regte en middele om hul eiendomsreg te beskerm. In die praktyk raak dit egter moeiliker om as ʼn individu al hierdie regte te gebruik. Dié dokument is geskryf vanuit ʼn gemeenskapsperspektief. Die voorstelle verlang gesamentlike optrede deur individue binne ʼn georganiseerde verband.

Praktiese riglyne oor hoe die gedoen kan word, word in hierdie dokument uiteengesit.

8.3 Voorkoming

Dit is makliker en goedkoper om grondbesetting te voorkom as om in uitgerekte regsgedinge vir uitsettings betrokke te raak. Die volgende kan help:

  • Raak betrokke by jou plaaslike Landbou-struktuur en/of veiligheids groep.
  • Wees paraat en bewus van alles wat op jou grond aangaan.
  • Patrolleer die area en versoek die plaaswag of veiligheidsgroep  om uit te kyk vir nuwe of vreemde    strukture.
  • Indien daar werkers of besetters op jou grond woon, bekom soveel inligting moontlik oor hulle (byvoorbeeld naamlyste en ID-afskrifte) sodat persone wat nie daar hoort nie, maklik geïdentifiseer kan word.
  • Pas streng toegangsbeheer toe, protokol ten opsigte van Plaasbesoek en protokol tot grafbesoeke op plase. Lees hiermee saam PIE wetgewing
  • Dit is belangrik om ’n goeie verhouding met die plaaslike polisie te bou en skakel ook in by jou plaaslike plaaswagstruktuur of gemeenskapspolisiëringsforum.
  • Indien jy tydelik nie op die grond kan wees nie, reël alternatiewe toesig deur byvoorbeeld jou plaaswag of veiligheidsmaatskappy. Moenie verkondig dat jy uitstedig gaan wees vir ʼn bepaalde tyd nie.
  • Rekordhouding en die neem van foto’s van onbekende persone en voertuie in die omgewing is belangrik. Meld ook die datum, tyd en plek aan waar die persone of voertuie opgemerk is. Stel jou plaaslike plaaswag of veiligheidsmaatskappy in kennis.
  • Lê klagtes by die polisie teen alle onregmatige betreders. Hierby ingesluit is ’n voorbeeld van ’n verklaring of affidavit oor betreding wat gebruik kan word om by die polisiestasie in te dien. Maak seker dat jy ‘n bewys van ontvangs met die beampte se rang, naam, van en magsnommer kry wanneer jy die verklaring indien.
  • Skakel in by plaaswagte en landbou inisiatiewe vir veiligheid.

8.4 Veiligheid eerste

Onthou dat jou veiligheid altyd eerste kom. Jy moet konflik sover moontlik vermy. Indien jy bewus word van ’n grondbesetting moet die SAPD en plaaswag  dadelik gekontak word. Kommunikasie moet verkieslik ook op skrif wees, sodat dit nie later ontken kan word nie.

Kontak ook jou bure en enige bestaande veiligheidstruktuur. Dit kan raadsaam wees om ’n hofinterdik te probeer verkry, voordat die persone intrek. Sluit alle hekke op die perseel en neem foto’s van die slotte. Patrolleer die area en sluit alle hekke wat gesluit kan word.

Sit waarskuwings borde op strategiese plekke om aan te dui dat dit privaar eiendom is.      

8.5 “Uitsetting” sonder ‘n hofbevel

Wetgewing bepaal dat niemand uit huisvesting gesit mag word sonder ’n hofbevel nie. ’n Struktuur wat nog nie bewoon word nie, is nie huisvesting nie. Daar is egter nie ’n riglyn oor wanneer ’n struktuur as ’n huis geag kan word nie. Die struktuur hoef nie voltooi te wees nie. Dit is ’n feitelike vraag of die persone reeds daar bly of nie, wat sal bepaal of ’n uitsetting in die hof nodig is, al dan nie. ’n Eienaar kan en behoort strukture af te breek, voordat dit bewoon word. Wanneer dié stap geneem word, moet die polisie, plaaswag en/of plaaslike veiligheidsgroep gekontak word vir bystand en getuienis.

Dit is dus belangrik dat die eienaar nie man-alleen die strukture afbreek nie, maar binne groepsverband.

Die boumateriaal moet nie beskadig word nie, en ’n inventaris moet opgestel word. Dit sal wys wees om dit ook aan die polisiestasie te oorhandig (SAP13). Hou die inventaris vir indien die plakkers later beweer hul materiaal is beskadig of gesteel. Dit is belangrik dat strukture dadelik, sodra dit gewaar word, afgebreek word. Maak seker die struktuur is nie bewoon nie, al is dit nog onvoltooid. Neem foto’s of ʼn video van die struktuur, voordat dit afgebreek word. Dit is die beste manier om later te toon dat dit wel onbewoon was.

Lees die aanhangsel oor die ESTA wetgewing om seker te maak jy oortree nie die wet as daar strukture afgebreek word

8.6 Die polisie

Die polisie is veronderstel om enige misdaad te ondersoek. In praktyk weier hulle dikwels om betrokke te raak waar grondbesettings plaasvind weens die politieke aard daarvan. Dring daarop aan om betredingsklagtes en ʼn moontlike klag van saakbeskadiging asook oortredings van die omheiningswet te lê. Aanhangsel H Klagtes van openbare geweld kan ook ʼn moontlikheid wees.Kry ander persone om jou na die polisiestasie te vergesel en getuies te wees. Dring daarop aan om die stasiebevelvoerder te spreek indien die beamptes onbehulpsaam is.

Lê klagtes by die Cluster Bevelvoerder indien klagtes nie geneem of ondersoek word nie. Dit is belangrik om die onbehulpsame beamptes te kan identifiseer.

8.7 Arrestasiebevoegdheid van privaat persoon

’n Privaat persoon kan self arrestasies uitvoer indien misdaad in sy teenwoordigheid gepleeg word. Dit is raadsaam om dadelik die polisie, plaaswag en/of veiligheidsgroep te skakel en hulle teenwoordig te hê wanneer opgetree word. Weereens moet dit op ’n verantwoordelike wyse binne groepsverband plaasvind. Dit is belangrik om dit met so min moontlik geweld uit te voer en om die persoon so spoedig moontlik aan die polisie te oorhandig. Dit is raadsaam om getuies by te hê met enige arrestasie.

8.8 Plakkers het reeds ingetrek

Indien die plakkers reeds gevestig het, betree hulle steeds, wat ʼn misdaad is. Dit is in so ʼn geval onwys om self arrestasies uit te voer, aangesien die besetters dit sal probeer plooi as ’n uitsetting sonder ’n hofbevel.

Druk moet op die polisie geplaas word om die klagtes wat reeds gelê is op te volg. Indien plakkers reeds ingetrek het, sal ’n uitsettingsbevel so spoedig moontlik by ’n hof verkry moet word. Dit is makliker om ’n uitsetting te kry in omstandighede waar die plakkers korter as ses maande op die grond is.

8.9 Besetting van openbare grond

Dit is ’n werklikheid dat openbare grond, soos parke en begraafplase, beset word. In hierdie omstandighede kan ’n lid van die publiek nie die strukture afbreek nie. Die aangewese roete om te volg, is om klagtes by die polisie en die munisipaliteit te lê.

Die munisipaliteit moet ook verwittig word indien die plakkershuise nie aan bouregulasies voldoen nie. Daar kan later teen die munisipaliteit opgetree word indien hulle hul regsplig versuim. Pro-aktiewe patrollering van openbare ruimtes deur onder meer plaaswagte kan wel die waarskynlikheid op besetting van openbare grond verminder.

8.10 Rekordhouding

Dit is belangrik dat daar noukeurig rekord gehou word van alle insidente:

Naam van insident, plek, tyd, datum, beskrywing van gebeure (telefoonoproepe, radio-boodskappe, ensovoorts), foto’s (korrekte datum en tyd moet verkieslik daarop verskyn) en video’s (korrekte datum en tyd moet verkieslik daarop verskyn).

8.11 Gevolgtrekking

Eiendomsreg is die hoeksteen vir ’n bestendige sosiale, ekonomiese en politieke omgewing. Die toenemende dreigemente van grondbesetting moet baie ernstig opgeneem word. Ons moet die vermoë ontwikkel om ons eie eiendomsreg én die eiendomsreg van ander persone en gemeenskappe te beskerm. Ons kan dit slegs tot uitvoer bring deur as georganiseerde gemeenskappe op ’n verantwoordelike wyse op te tree.

8.12 Gebeurlikheidsplan tov onregmatige besetting van landbougrond

Grondbesettings maak deel uit van die LandelIkE Beveiliging Strategie (LBS) -Mobiliseer die Landelike Beveiligingsplan (LBP) in u area waar alle sektor leiers, plaaswag, reaksiegroep, ens. gemobiliseer word omobservasie poste te beman – beteken dat GOS gestig word wat deur beide SAPD en Landbou veiligheidskoordineerder beman word.

error: Content is protected !!