Onwettige jag met honde

7.1 Inleiding

Suid-Afrikaanse boere is nie net besorg oor toenemend ongure weerpatrone, grondkwessies  en plaasmoorde nie, maar moet ook die groeiende kriminele bedrywighede op hul plase, soos  die onwettige jag met honde, hanteer.

Hierdie jagbedrywighede het meer georganiseerd en gesofistikeerd geraak oor die afgelope  dekade en dra by tot spanning tussen boere, gemeenskappe en selfs bewaringsorganisasies.  Daar was al verskeie onaangename ervarings vir boere met hierdie betreders, wat meestal  goed ingelig is, met betrekking tot hul regte en regskwessies, en hulle gebruik dit tot hul volle  voordeel.

Vir die doel van hierdie riglyne, sluit “jag” alle optrede in deur persone wat privaat eiendom  onwettig betree, waarskynlik met die doel om vee of wild te steel, te vang of dood te maak met die hulp van ‘n hond of honde.

Die doel van die riglyne is om ‘n oorsig van die probleem te gee en riglyne daar te stel wat gevolg kan word en is nie bedoel om regsadvies te wees nie.

7.2 Omvang van die probleem

Daar kan geen twyfel wees oor die omvang van die probleem wanneer daar gekyk word na  koerantverslae, tydskrifartikels en verwante navorsing nie. Voorbeelde oor die afgelope paar  jaar sluit in die volgende:

  • Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) het reeds in 1998 die voorsitter van die Bedreigde Wildtrust, Dr John Ledger, in hierdie verband aangehaal. Dr Ledger is van mening dat jag met honde die grootste bedreiging vir biodiversiteit in Afrika inhou;
  • Volgens ‘n NSPCA-verslag van 2002, het Sian Hall, ‘n akademikus wat tradisionele jaghonde oor ‘n tydperk van 10 jaar bestudeer het, bevind dat ‘n groot persentasie honde wat gebruik word vir jagdoeleindes, in ‘n buitegewone swak toestand is: ondervoed, onversorg en besmet met wurms en bosluise, is.
  • Dr Gerhard Verdoorn van Griffon, ‘n gereelde bydraer tot Agri, het dit in ‘n vroeër artikel bevestig.

“Hierdie honde word doelbewus uitgehonger om te verseker dat hulle meer wreedaardig is wanneer daar gejag word.” Verdoorn verwys na ‘n spesifieke geval waar hy gesien het hoe 14 mans met 42 honde alles van springhase tot meerkatte en kiewiete op ‘n plaas naby Carletonville verskeur. Die polisie was baie apaties toe hy die insident aangemeld het.

  • Die Universiteit van KwaZulu-Natal het beklemtoon dat honde nie effektiewe jagters is nie – hulle verskeur hul prooi terwyl die diere nog leef. Die universiteit het bevind dat die bloukraanvoël- en ander kraanvoëlspesies reeds met 90% afgeneem het teenoor die vorige 10 jaar weens die ondeurdagte gebruik van honde. Dit word gedoen ten spyte van die feit dat indien persone skuldig bevind word aan die jag van bedreigde spesies, hulle met miljoene rande beboet kan word of gevangenisstraf van tot 25 jaar in die gesig staar;
  • Verskeie provinsiale organisasies van Agri SA het aktief betrokke geraak by pogings om hierdie kwessie, wat onlangs baie vererger het, aan te spreek.3

7.3 Belangrike uitwysings 

Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee het onlangs heelwat tyd bestee om die probleem te bespreek op soek na oplossings. Onwettige jag met honde is toenemend ‘n probleem, en grondeienaars moet uiters oordeelkundig optree om vervolging te vermy.

Verskeie belangrike regs- en ander riglyne is tot boere se beskikking in hierdie verband, insluitend die volgende:

  • Daar is genoeg wetgewing wat handel oor die onwettige jag met honde, soos byvoorbeeld natuurbewaringsordonnansies, wat in ‘n mate beskerming bied aan wild, veral spesies wat as bedreig beskou word. Daar is ook anti-wreedheidswetgewing soos die Wet op Dierebeskerming wat sekere dade teen diere verbied.
  • Die meeste Suid-Afrikaanse munisipaliteite het by-wette en regulasies om troeteldiere te beheer. Nie-nakoming, is strafbaar en die betrokke diere kan ook geskut word.
  • Wanneer ‘n grondeienaar skade ly, kan hy ‘n saak maak teen die eienaar van die dier om hom te vergoed vir die skade.
  • Die SAPD beveel aan dat, waar moontlik, jaghonde gevang moet word en aan die DBV oorhandig word. Hoewel sommige natuurbewaringsordonnansies boere toelaat om honde te skiet, beskou die SAPD dit as ‘n risiko. Hoewel grondeienaars die reg het om te skiet ter selfverdeding en om hul eiendom te beskerm, is daar baie gevolge wat die boer se lewe kan versuur.
  • ‘n Suksesvolle verweer van selfverdediging vereis onder meer dat dit ‘n noodsituasie moet wees met ‘n onmiddellike bedreiging weens onwettige gedrag en – baie belangrik – dat die skade wat veroorsaak is deur die optrede nie buite verhouding tot die belang wat beskerm word moet, wees nie.

Daarom moet boere goed ingelig wees oor regsaspekte en uiters versigtig optree. Hou altyd die volgende belangrike riglyne in gedagte:

  • Daar word aanbeveel dat vee- of wildboere wat verliese ly weens honde, ‘n klag van betreding ingevolge die Betredingswet en ‘n klag van wreedheid teenoor diere ingevolge die Wet op Dierebeskerming indien. Klagtes ingevolge die Omheining-, Veediefstal- of die Wilddiefstalwet, natuurbewaringsordinnansies en tersaaklike munisipale ordonnansies kan ook ingedien word. ‘n Eis vir vergoeding waar die eienaars van die honde bekend is, kan ook ingedien word.
  • Die SAPD beveel aan dat, waar moontlik, honde gevang en aan die DBV oorhandig moet word. Hoewel dit onder seker omstandighede wettig is om hierdie honde te skiet, is daar vele risiko’s, insluitend misbruik van die wet deur oortreders, met die gevolg dat boere valslik beskuldig word van intimidasie, die rig van ‘n vuurwapen of selfs poging tot moord.

Troppe honde van meer as 20 wat baie aggressief kan wees is ook soms betrokke.

  • Daar word ook aanbeveel dat ‘n grondeienaar sy plaaslike plaaswagstelsel in kennis sal stel wanneer verdagtes op die plaas waargeneem word. Die onwettige jagters werk gewoonlik in groepe van ten minste vier en dit sou onwys wees om hulle alleen te konfronteer. Hulle is gewoonlik baie arrogant en aggressief en ook swaar gewapen.
  • Veiligheidsverteenwoordigers van boereverenigings kan namens hul lede die probleem uitlig tydens plaaslike Prioriteitskomiteevergaderings.

70.4 Tersaaklike wetgewing 

Die kwessie van plaas- en boereveiligheid, verontagsaming van privaat eiendom, die impak daarvan op wild en plaasvee en die skiet van duur honde veroorsaak toenemende spanning tussen jagters en die grondeienaars op wie se plase hulle jag.

Die volgende wetgewing is tot boere se beskikking om op te tree teen onwettige jag met honde:

7.4.1 Betredingswet, Wet 6 van 1959 

Ingevolge die Betredingswet mag geen person privaat grond betree sonder die toestemming van die eienaar nie, die wettige bewoner of die persoon in beheer van die grond. Artikel 1 van hierdie wet handel oor die verbod op toegang tot en teenwoordigheid op privaat grond.

Enige ongemagtige persoon wat honde gebruik om ‘n ander person se vee of wild te jag is skuldig aan die gemenereg-misdaad van kwaadwillige beskadiging van eiendom. Indien die grondeienaar sy werknemers ingelig het dat geen persoon toestemming sal verkry om die grond te betree, vergesel met honde of vir jag doeleindes nie, mag geen werknemer wettiglik sodanige toestemming verleen nie.

Grondeienaars moet egter kennis neem van gevalle waar die hof bevind het dat die skiet van ‘n hond buite verhouding was met die vereistes in dié geval – selfs waar daar geargumenteer word dat die persoon geskiet het om sy eiendom te beskerm.

Dit impliseer dat die grondeienaar moontlik siviele litigasie in die gesig kan staar nadat hy die hond geskiet het. Hoewel dit in baie gevalle nie moontlik is nie, is ‘n siviele aksie teen die eienaars van die honde die aangewese roete om te volg.

Kwaadwillige beskadiging van eiendom

Kwaadwillige beskadiging van eiendom geskied wanneer ‘n persoon onwettig en doelbewus die beweegbare- of onbeweegbare eiendom van ‘n ander persoon beskadig. Die beskadiging van heinings of hekke, asook die besering of doodmaak van ‘n dier wat aan die grondeienaar behoort, sal binne die bestek van hierdie oortreding resorteer.

7.4.2 Die Veediefstalwet, Wet 57 van 1959 

Die Veediefstalwet maak voorsiening vir sekere oortredings wat verband hou met onwettige jag. Artikel 9(1) van die wet maak daarvoor voorsiening dat die persoon ‘n indringer sonder ‘n lasbrief mag arresteer indien daar ‘n redelike vermoede is dat hy ‘n misdaad gepleeg het.

Grondeienaars moet egter in gedagte hou dat onregmatige en kwaadwillige arrestasie – in die afwesigheid van ‘n goeie rede – as sodanig ‘n oortreding behels. Artikel 4 van die wet bepaal ook dat ‘n persoon wat omheide grond of ‘n kraal, pakhuis, stal of ander bemuurde plek betree met die doel om vee- of plaasprodukte te steel, skuldig sal wees aan ‘n oortreding.

7.4.3 Die Wilddiefstalwet, Wet 105 van 1991 

Artikel 3 van hierdie wet spesifiseer dat enige persoon wat grond betree of wat wild verwilder of weglok, skuldig is aan ‘n oortreding. 

7.4.4 Die Omheiningswet, Wet 31 van 1963 

Die Omheiningswet verbied toegang tot eiendom deur oor heinings te klim of onder deur heinings te kruip, of deur slotte van hekke te verwyder, ens. Sodanige betreding sal beskou word as ‘n oortreding. Die kwaadwillige beskadiging van heinings en/of hekke word ook beskryf as ‘n oortreding ingevolge van hierdie wet.

7.4.5 Provinsiale en nasionale natuurbewaringsordonnansies en -wetgewing 

Honde mag wettiglik gebruik word (sonder ‘n permit) slegs vir die doel om ‘n dier wat tydens ‘n wettige jagtog gewond is te volg of op te spoor. Dit beteken dat geen persoon gewone wild met honde mag jag nie, tensy hy/sy ‘n lisensie/permit vir hierdie doel het of onder die direkte toesig van die grondeienaar jag.

7.4.6 Nationale Wet op Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, Wet 10 van 2004 

Die wet maak voorsiening vir regulasies oor bedreigde en beskermde spesies en handel oor die jag, vang of doodmaak van sodanige spesies.

7.4.7 Wet op Dierebeskerming, Wet 71 van 1962 

Hierdie wet verbied enige persoon om enige dier uit te lok of te treiter of enige dier aan te hits om ‘n ander dier aan te val.

7.4.8 Strafproseswet, Wet 51 van 1977 

Artikel 20 van hierdie wet bepaal dat die staat beslag mag lê op items of voorwerpe wat vermoedelik gebruik is om ‘n misdaad te pleeg. Honde kan beskou word as ‘n bewysstuk binne die konteks van hierdie artikel. Hierdie wet bepaal ook dat ‘n privaat persoon (die grondeienaar) sonder ‘n lasbrief ‘n persoon mag arresteer wat ‘n oortreding began of poog om te oortree, of waar die privaat persoon ‘n redelike vermoede het dat iemand ‘n oortreding begaan het soos verwys in bylaag 1 tot die wet.

7.5 Praktiese riglyne 

Alhoewel onwettige jag met honde beskou word as ‘n ernstige oortreding, moet grondeienaars sorg dat hulle die korrekte prosedures volg en soveel bewyse as moontlik teen die oortreders versamel. Onthou ook om liewer die plaaswag van die begin af te betrek. Daar is net te veel op die spel om impulsief op te tree.

Tydens onlangse samesprekings met die polisie, is die volgende riglyne ter tafel gelê. Boere kan hierdie riglyne volg wanneer hulle die probleem van die onwettige jag met honde aanspreek.

  • Soos hierbo aangedui, is daar oorgenoeg wetgewing om die probleem aan te spreek.
  • Rapporteer alle gevalle van onwettige jag met honde by die plaaslike polisiestasie en hou rekord van alle saaknommers.
  • Implementeer Agri SA se protokol en vertoon die toepaslike kennisgewing by ingange en grensheinings.
  • Boereverenigings kan verhoogde bewustheid van die probleem onder die publiek en die media skep.
  • Versamel bewyse en bewaar die misdaadtoneel:
    • Die misdaadtoneel moet onaangeraak gelaat word totdat die polisie bewyse versamel en aangeteken het, bv. voertuigbandafdrukke, verdagte- en dier-spore.
    • Maak seker dat daar nie verdere verdagtes in die nabyheid is nie.
    • Bewaar die bewysstukke wat nie vernietig mag word nie.
    • Toegangspunt, oop hek, beskadigde omheining.
    • Geen etery, drinker of rokery by die misdaadtoneel nie.
    • Teken die name en adresse van moontlike getuies aan.
    • Moenie die feite met getuies bespreek nie.
    • Maak aantekeninge oor die posisie van voertuie, verdagtes, honde, hekke, heinings, ens.
    • Waar moontlik, neem foto’s van voertuie, honde en verdagtes.
  • Natuurbewaringsorganisasies moet onmiddellik betrokke raak om behulpsaam te wees met ‘n klagte oor onwettige jag.
  • Betrek die naaste Dierebeskermingsvereniging om behulpsaam te wees met die konfiskering van die honde.
  • Boereverenigings moet die plaaslike Nasionale Vervolgingsowerheid betrek by vergaderings waar hulp met die hantering van insidente van onwettige jag met honde bespreek word.
  • Raak betrokke by die plaaslike polisie en sektor-gemeenskapspolisiëringsforum.
  • Gebruik die plaaslike prioriteitskomitee om aksieplanne te ontwikkel vir die hantering van die probleem, soos patrollies en bewusmakingsprogramme.
  • In die geval van skade wat deur honde veroorsaak is, moet grondeienaars ook ‘n saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom open en aandring op ‘n kompenserende boete wat die waarde van die eiendom aandui.
  • Indien jagbedrywighede voorheen toegelaat was en die grondeienaar dit nou wil staak, moet ‘n regsprosedure gevolg word om bure, huurders, gemeenskapslede, ens. daarvan in kennis te stel.

7.6 Slot 

Dit is belangrik om uiters versigtig te werk te gaan wanneer daar gehandel word met die kwessie van die onwettige jag met honde. In gevalle waar grondeienaars vind dat honde hul eiendom vernietig, moet die polisie onmiddellik daarvan in kennis gestel word. Voordat honde geskiet word moet grondeienaars egter besef dat klagtes teen sodanige grondeienaars algemeen is; daarom moet alle moontlike beskermingsmaatreëls aangewend word. Daar word ook aanbeveel dat boere hul veiligheidsnetwerk kontak sodat bure hulle kan ondersteun, veral wanneer verskeie oortreders betrokke is by die onwettige jag met honde op hul grond. Onthou, onwettige jag is ‘n misdaad – maar vermy vigilante-optrede wat kan lei tot vervolging.

7.7 Erkenning

  • Die onwettige jag met honde: Wat staan jou te doen? Annelize Crosby 2017
  • Guideline: hunting with dogs, Kwanalu
  • Illegal hunting with dogs, a brief overview of the legal issues, SAPS, 2017
  • Onwettige jag met honde op plase, provinsiale SAPD-instruksie Vrystaat, November 2015
  • Rural Safety Strategy, Implementation Guidelines
  • The illegal hunting with dogs, Servamus, February 2015.

T: +27 12 643 3400

F: +27 12 663 3178

E: agrisa@agrisa.co.za

Inkwazi Building, Block A, 1249 Embankment Road, Zwartkop X7, Pretoria, South Africa

error: Content is protected !!