Siviele arrestasie en die gebruik van geweld tydens arrestasie 

3.1 Wanneer mag ‘n privaat persoon ‘n arrestasie uitvoer?

Artikel 42 van die Strafproses Wet 51 van 1977 (“die Wet”), bepaal dat ‘n privaat persoon mag sonder ‘n lasbrief, enige persoon arresteer – Ø wat in sy/haar teenwoordigheid ‘n misdryf pleeg of poog om te pleeg of iemand wat hy/sy redelikerwys vermoed betrokke was by  die pleeg van ‘n misdryf soos verwys na in Bylae 1 van die Wet; wat hy/sy redelikerwys vermoed betrokke was by die pleging van ‘n misdryf en wat in die proses is om te ontsnap terwyl hy/sy deur ‘n persoon agternagesit word welke persoon redelikerwys vermoed word oor die nodige bevoegdheid beskik om die persoon te arresteer vir die betrokke misdryf; Ø wat hy/sy bywyse van enige ander wetgewing gemagtig is om te arresteer sonder ‘n lasbrief ten opsigte van enige misdryf gepleeg in terme van sodanige wetgewing; en wat hy/sy aantref ten tye van ‘n fisiese bakleiery.

3.1.1 Bylae 1 Misdrywe:

Die misdade waarna verwys word in Bylae 1 van die Wet met betrekking waartoe ‘n privaat persoon iemand mag arresteer is as volg:

  • Hoogverraad; Sedisie; Openbare Geweld; Moord; Strafbare manslag; Verkragting of Gedwonge verkragting; Seksuele aanranding of gedwonge seksuele aanranding; enige seksuele misdryf teenoor ‘n kind of ‘n geestelik versteurde persoon;
  • Mensehandel vir seksuele doeleindes deur ‘n persoon beoog in Art 71(1) of (2) van die Strafprosesreg Wysigings Wet (Seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede), Bestialiteit, Ontvoering; Menseroof; Misdrywe met betrekking tot munte; Roof; Aanranding met die opset om ‘n ernstige wond toe te dien;
  • Brandstigting; Opsetlike saakbeskadiging, Huisbraak met die opset om ‘n misdryf te pleeg; Diefstal; Ontvangs van gesteelde eiendom wetende dat dit gesteel is; Bedrog, Vervalsing of uitgifte van ‘n vervalste dokument wetende dat dit vervals is. Die volgende misdade kan ook hierby gevoeg word nl. enige misdaad waar die straf ten opsigte van die misdryf langer is as ‘n tydperk van ses maande gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete; ontsnapping vanuit wettige bewaring waar die persoon betrokke in bewaring is ten opsigte van enige misdryf in hierdie Bylaag na verwys of waar die persoon in bewaring is ten opsigte van die misdryf ontsnapping , en enige sameswering, aanhitsing of poging om enige misdaad waarna in hierdie Bylaag verwys word, te pleeg.

3.2 Redelike vermoede /oortuiging

Die frases “redelik vermoed gepleeg” en “redelike oortuiging dat in die pleging van misdryf betrokke was” soos dit in Artikel 42 gebruik word moet geinterpreteer word om te beteken dat ‘n redelike persoon met soortgelyke ervaring, intelligensie, ens dieselfde vermoede of oortuiging in dieselfde omstandighede sou gehad het.

3.3 Magtiging om te arresteer in terme van ander wetgewing

Art 42 van die Wet maak ook voorsiening dat ‘n privaat persoon ‘n persoon kan arresteer deurdat hy / sy “gemagtig word deur wetgewing om ‘n arrestasie sonder ‘n lasbrief uit te voer”. Een sodanige wet is die Wet op Veediefstal. Art 9 van hierdie wet bepaal dat enige persoon ‘n ander persoon sonder ‘n lasbrief mag arresteer op ‘n redelike vermoede dat sodanige ander persoon die misdrywe soos in Art 2 of 4 van die Wet na verwys, gepleeg het. [ In terme van Art 2 van die Wet op Veediefstal word ‘n misdryf gepleeg indien ‘n persoon in besit is van vee of produkte van vee in terme waarvan ‘n redelike vermoede bestaan dat sodanige vee of produkte gesteel is en sodanige persoon nie ‘n redelike en aanvaarbare verduideliking / weergawe kan voorsien vir die besit van sodanige vee of produkte nie. In terme van Art 4 van die Wet is ‘n persoon skuldig aan ‘n misdryf indien hy of sy aangetref word op grond wat ten volle omhein is, of in ‘n kraal, skuur, stal of ander ommuurde plek met die opset om enige vee of produkte daarbinne te steel.]

3.4 Eienaar, Wettige bewoner of persoon in beheer van eiendom

In die laaste instansie maak Art 42 voorsiening dat die eienaar, regmatige bewoner of persoon in beheer van eiendom waarop of waar enige persoon aangetref word terwyl hy of sy betrokke is in die pleging van ‘n misdryf, en enige persoon wat daartoe gemagtig is deur sodanige eienaar, bewoner of persoon in beheer, sodanige persoon sonder ‘n lasbrief mag arresteer Dit beteken dat ‘n privaat persoon wat eiendom besit, bewoon of bestuur ‘n ander persoon kan arresteer indien sodanige persoon aangetref word op sodanige eiendom terwyl hy of sy enige misdryf en nie net die misdrywe soos aangedui in Bylae 1 van die Wet, pleeg nie.

3.5 Hoe word ‘n arrestasie uitgevoer

Tensy die persoon wat gearresteer staan te word hom onderwerp aan inhegtenisname, word ‘n arrestasie uitgevoer deur die persoon aan te raak en indien omstandighede dit vereis, deur die persoon met die nodige geweld in bedwang te bring (Art 39). Die geweld wat as sodanig gebruik word, moet redelik wees in die omstandighede. Indien meer geweld gebruik word as wat redelik nodig is, sal die persoon wat die arrestasie uitvoer hom skuldig maak aan     aanranding van die verdagte.

Die persoon wat die arrestasie uitvoer is verplig om ten tye van die arrestasie of onmiddellik daarna, die gearresteerde in te lig van die oorsaak of rede vir die arrestasie. Die effek van die arrestasie is dat die persoon wat gearresteer is, in wettige bewaring verkeer en dat hy of sy aangehou sal word totdat hy of sy wettiglik uit bewaring vrygelaat of ontslaan word (sodanige gearresteerde persoon moet so spoedig moontlik aan ‘n polisiebeampte oorhandig word).

3.6 Beslaglegging van voorwerpe in besit van ‘n gearresteerde persoon

In terme van Art 23 van die Wet word bepaal dat tydens die arrestasie van enige persoon deur ‘n privaat persoon, die privaat persoon op  enige voorwerp soos in Art 20 van die Wet vermeld, wat in besit of onder beheer van die gearresteerde gevind word, beslag kan lê.

Die persoon wat die arrestasie uitvoer mag ook enige voorwerp wat hy / sy in besit van die gearresteerde vind wat gebruik kan word om ‘n besering aan hom / haar of iemand anders te veroorsaak, in veilige bewaring plaas. Bovermelde voorwerp(e) moet onverwyld aan ‘n polisiebeampte oorhandig word.

3.7 Art 20 bedoelde voorwerpe

Die voorwerpe soos aangedui in Art 20 is as volg:

  • Daardie voorwerpe betrokke in of wat redelikerwys vermoed word  betrokke te wees in die pleging of vermoedelike pleging van ‘n misdryf (bv. gereedskap wat gebruik word om ‘n deur oop te breek, ‘n wapen wat in ‘n aanval gebruik word, ens.)
  • Voorwerpe wat as bewysstukke kan dien wat betref die pleging of vermoedelike pleging van ‘n misdryf (bv. items wat gesteel is, gereedskap en wapens wat gebruik word om ‘n misdryf te pleeg, ens.)
  • Voorwerpe wat bedoel is om gebruik te word of wat op redelike gronde vermoed word bedoel is om gebruik te word in die pleging van ‘n misdryf (bv. huisbraak gereedskap, wapens ens.)

3.8 Gebruik van geweld in uitvoer van arrestasie

In die geval waar geweld gebruik word tydens ‘n arrestasie, word privaat persone sowel as polisiebeamptes op dieselfde basis hanteer in terme van die Strafproseswet. Vir die doel om dit duidelik te maak wat die Wet bepaal ten opsigte van die gebruik van geweld in ‘n gepoogde arrestasie, word hieronder na Art 49 verwys:

3.8.1 Artikel 49(1): Gebruik van geweld tydens arrestasie

  • Vir doeleindes van hierdie artikel- • “arresteerder” beteken enige persoon wat in terme van hierdie Wet bevoeg is om ‘n arrestasie of hulpverlening tydens ‘n arrestasie uit te voer;
  • “verdagte” beteken enige persoon wie ‘n arresteerder redelikerwys vermoed besig is om ‘n misdaad te pleeg of alreeds ‘n misdaad gepleeg het; en
  • Dodelike geweld beteken geweld wat in alle waarskynlikheid ernstige liggaamlike leed of dood kan veroorsaak en wat insluit maar nie beperk is tot die afvuur van ‘n vuurwapen in die rigting van ‘n verdagte, nie.

3.8.2 Artikel 49(2): Gebruik van geweld tydens arrestasie

Indien ‘n arresteerder poog om ‘n arrestasie uit te voer en die verdagte verset hom / haar teen die gepoogde arrestasie of vlug, of verset hom / haar teen die gepoogde arrestasie en vlug wanneer dit duidelik is dat daar ‘n poging is om hom / haar te arresteer en die verdagte kan nie gearresteer word sonder die gebruik van geweld nie, mag die arresteerder ten einde die arrestasie uit te voer, sodanige geweld gebruik as wat redelikerwys en proporsioneel in die omstandighede noodsaaklik is om die verset te oorkom en of te verhoed dat die verdagte vlug maar bykomend tot die vereiste dat die geweld redelik, proporsioneel en noodssaklik in die omstandighede is, mag die arresteerder dodelike geweld gebruik slegs indien-

3.8.3 Artikel 49(2): Dodelike Geweld

  • die verdagte ‘n bedreiging van ernstige geweld teenoor die arresteerder of enige ander persoon inhou; of
  • die verdagte op redelike gronde vermoed word betrokke te wees by die pleging van ‘n misdryf waarin die toediening of dreigende toediening van ernstige liggaamlike leed ter sprake is EN DAAR GEEN ANDER REDELIKE WYSE IS OM DIE ARRESTASIE UIT TE VOER, op aardie gegewe tydstip of later nie

Die geweld na verwys in die eerste gedeelte van Art 49(2) het betrekking op die toepassing van enige geweld anders as dodelike geweld. Sodanige geweld mag deur ‘n privaat persoon toegepas word in ‘n poging om ‘n verdagte te arresteer vir enige situasie in Art 42 voor voorsiening gemaak, mits die geweld toegepas redelik noodsaaklik en proporsioneel in die omstandighede is.

3.9 Noodsaaklik en Proporsioneel

Ten einde te bepaal of geweld redelik noodsaaklik en proporsioneel is, moet die arresteerder gelei word deur faktore soos die tipe misdryf gepleeg (of redelikerwys vermoed gepleeg is) deur die verdagte, enige geweld wat gebruik is deur die verdagte, die liggaamsbou en ouderdom van die verdagte, die omstandighede waaronder die misdryf gepleeg is, die waarde van die eiendom beskadig of gesteel deur die verdagte, die gemak waarmee die verdagte opgespoor kan word indien hy nie op daardie stadium gearresteer word nie, ens.

3.10 Wanneer mag dodelike geweld gebruik word

  • Indien die verdagte ‘n wesenlike bedreiging van ernstige geweld teenoor die arresteerder of enige ander persoon inhou.
  • Hierdie vereiste kom neer op die gebruik van dodelike geweld in noodweer naamlik om die arresteerder of ‘n ander persoon te beskerm van ‘n bedreiging van ernstige geweld. (Die vereistes vir noodweer word hieronder bespreek en sal hier toepassing vind.)
  • Wanneer die verdagte op redelike gronde vermoed word betrokke te wees in die pleging van ‘n misdryf waarin die toediening of dreigende toediening van ernstige ligaamlike leed ter sprake is en daar geen ander redelike wyse is om ‘n arrestasie op daardie gegewe oomblik of later uit te voer nie.
  • Eerstens, moet die arresteerder ‘n vermoede op redelike gronde hê dat die verdagte ‘n misdryf gepleeg het waarin daar die toediening of  dreigende toediening van ernstige ligaamlike leed plaasgevind het. Sodanige misdrywe is byvoorbeeld: verkragting, gewapende roof, poging tot moord of ander misdrywe waar daar ernstige liggaamlike leed aan die slagoffer toegedien is of waar daar ‘n bedreiging van ernstige liggaamlike leed was.
  • Tweedens moet die arresteerder oor geen ander redelike wyse beskik om die arrestasie op daardie gegewe oomblik of in die toekoms uit te voer nie.
  • Indien die verdagte byvoorbeeld ‘n onbekende gemaskerde persoon met handskoene is en ‘n poging word aangewend om hom te arresteer vir gewapende roof, sal dit oor die algemeen redelik wees in die omstandighede om ‘n vuurwapen te gebruik in die arrestasie omrede die  arresteerder oor geen ander redelike wyse beskik om die verdagte op ‘n latere stadium te identifiseer en te arresteer nie (sy identiteit is onbekend, getuies kon hom nie identifiseer, sy adres is onbekend ens.)

3.11 Noodweer (SELFVERDEDIGING) 

  • Noodweer behels die gebruik van geweld teenoor ‘n ander in ‘n poging om die lewe, eiendom ens van die benadeelde persoon te beskerm deur die toepassing van ‘n afwerende handeling.
  • Die vereistes vir die aanval op die persoon wat in noodweer optree is soos volg:
  • Die aanval kan bestaan uit ‘n positiewe handeling of ‘n nalate. ‘n Direkte hou op iemand toegedien is ‘n positiewe handeling en indien die Korrektiewe Dienste personeel iemand na afloop van sy termyn van tronkstraf nie vrylaat nie, word dit beskou as ‘n versuim of nalate, ens.
  • Die aanval moet onregmatig wees. Dit beteken dat die aanval kan insluit: aanranding, poging tot moord, opsetlike skade aan eiendom, ens.Die aanval kan gerig wees teen ‘n persoon anders as die een wat in noodweer handel.
  • Die aanval moet voortspruit uit ‘n handeling wat deur ‘n mens geinisieer word. ‘n Dier of lewelose voorwerp kan nie op sy eie onregmatig handel nie.
  • Die aanval moet gerig wees teen ‘n belang wat regtens beskerming verdien. Meestal tree ‘n persoon in noodweer op as hy of sy, sy of haar lewe, of die lewe van ‘n ander beskerm, maar ander beskermingswaardige belange mag ook beskerm word soos eiendom, ‘n  persoon se goeie naam, ens.
  • Die aanval moet besig wees om plaas te vind, of onmiddellik dreigend wees, maar nie reeds afgehandel nie. As ‘n aanval reeds afgehandel is, kan mens nie meer in noodweer optree nie. Optrede na afloop van die aanval sal wraak of ‘n vorm van straf daarstel.

3.12 Die vereistes vir die afwerende / beskermende handeling: 

  • Die afwerende handeling moet teen die aanvaller gerig wees;
  • Dit moet noodsaaklik wees om die belang wat bedreig word te beskerm, in die sin dat dit nie moontlik is om die aanval op ‘n minder skadelike wyse af te weer nie. ‘n Afwerende handeling sal beskou word noodsaaklik te wees as die persoon byvoorbeeld in sy / haar woonhuis aangeval word. Daar word nie van so ‘n persoon verwag om te vlug uit sy / haar woonhuis eerder as om ‘n teenaanval te rig nie.
  • Die afwerende handeling mag nie meer skadelik wees as wat nodig is om die aanval af te weer nie. Dit beteken weereens dat die geweld wat aangewend word om die aanval af te weer, redelik / proporsioneel moet wees teenoor die geweld wat die aanvaller gebruik en die belang wat beskerm word. Die omstandighede van elke geval sal bepaal of die geweld wat teenoor die aanvaller gebruik was, redelik noodsaaklik en proporsioneel in die omstandighede was. Faktore soos byvoorbeeld die feit dat die persoon wat aangeval word ‘n vrou is wat nie die krag van die aanvaller het nie, kan ook die gebruik van lewensgevaarlike geweld regverdig in omstandighede waar die aanvaller moontlik nie eers ‘n wapen het tydens aanranding nie.
  • Die persoon wat die afweershandeling aanwend, moet bewus wees dat hy of sy in noodweer optree. Dit beteken hy of sy moet weet dat die aanvalshandeling onregmatig is en moet optree met die bedoeling om die aanval af te weer deur middel van noodweer.

3.13 Toets vir Noodweer

Die toets wat howe toepas om te bepaal of die persoon wat in noodweer opgetree, regmatig gehandel het, is dié van die redelike persoon. Die howe sal vra of die redelike persoon, in dieselfde posisie as die verdediger / beskermer, dieselfde sou optree in dieselfde omstandighede, (in aggenome die middele tot sy of haar beskikking, die tyd wat hy of sy gehad het om te reageer, die aard van die aanval, die belang wat bedreig word, ens.) Die persoon wat in noodweer optree sal onregmatig handel indien hy of sy meer leed aanrig as wat nodig is om die aanval af te weer.

3.14 Wanneer om te arresteer en wanneer om in noodweer op te tree

  • Dit moet duidelik begryp word dat wanneer jou lewe of die lewe van  ‘n ander in gevaar is as gevolg van ‘n onregmatige aanval of die onmiddellike bedreigende onregmatige handeling van ‘n ander persoon, hoef geen persoon eers ‘n poging aan te wend om die aanvaller / misdadiger te arresteer voordat ‘n poging aangewend word om die aanval af te weer of om die lewe van jouself of ‘n ander in noodweer te beskerm nie. Sodanige afweershandeling sal as noodweer beskou word indien dit die onregmatige aanval op sy of haar lewe of eiendom of die lewe of eiendom van ‘n ander, regmatiglik afweer.
  • Indien die onregmatige aanval teen die eiendom of lewe van die persoon wat aangeval of ‘n ander persoon se lewe of eiendom afgeloop het, kan daar gepoog word om die verdagte te arresteer.
  • Noodweer kan nie gebruik word na afloop van die aanval of onregmatige handeling nie.
error: Content is protected !!