My regte tydens arrestasie

2.1 Voorwoord 

Ingevolge artikel 12 van die Grondwet, Wet 108 van 1996, het elke persoon die reg op vryheid en sekerheid van die persoon waarby inberepe is die reg om nie arbitrêr of sonder grondige rede van sy/haar vryheid ontneem te word nie en om nie sonder verhoor aangehou te word nie. Enige aantasting van hierdie grondwetlike reg kan slegs geskied in terme van ‘n algemeen geldende wet

(byvoorbeeld die Strafproseswet) en indien dit geregverdig is in ‘n oop en demokratiese samelewing gebaseer op vryheid en gelykheid.

Talle gevalle is in die verlede aan Agri SA uitgewys waar boere sonder goeie ondersoekwerk of weens vals verklarings wederegtelik in hegtenis geneem is. Om boere bewus te maak van hulle regte en breë riglyne daar te stel hoe om tydens ‘n arrestasie te handel het die Agri Securitas Trustfonds geld bewillig om die handleiding saam te stel. Dit is belangrik dat ons lede hulle sal vergewis van

hulle regte tydens ‘n arrestasie en indien ‘n arrestasie sou plaasvind, moet lede met die agtergrond van die handleiding, onmiddelik regsadvies inwin. Die beskikbaarstelling van fondse vir die saamstel en druk van die handleiding deur die Agri Securitas Trustfonds, is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning wat van die fonds se vennote, Nissan SA en Smartcom, verkry word.

2.2 Inleiding

Indien ‘n persoon (byvoorbeeld ‘n boer) sonder ‘n grondige rede gearresteer word, kom dit neer op onregmatige vryheidsberowing wat ‘n besondere verskyningsvorm van delik oftewel onregmatige daad is en waarvoor die benadeelde persoon ‘n eis vir skadevergoeding sou kon instel. Selfs ‘n “prima facie” regmatige arrestasie (byvoorbeeld ingevolge ‘n geldige lasbrief) kan onregmatig wees indien die dader met ‘n onbehoorlike motief gehandel het. Die motief met arres moet altyd wees om die gearresteerde behoorlik tot verhoor te bring.

Kwaadwillige vryheidsberowing geskied onder die dekmantel van ‘n geldige regsproses. Die staat se regsmasjinerie word naamlik op ‘n onbehoorlike wyse gebruik om iemand van sy vryheid te ontneem. Ook in so ‘n geval kan die benadeelde persoon ‘n aksie vir skadevergoeding instel.

Daar is verder ook ‘n delik wat bekend staan as kwaadwillige vervolging waar ‘n persoon wat onskuldig bevind is op ‘n kriminele klag wat gelê is deur iemand met ‘n kwelsugtige motief, ‘n aksie vir skadevergoeding teen so ‘n persoon kan instel.

Om te kan slaag met so ‘n aksie sal die eiser moet bewys dat die verweerder die vervolging aangestig het, dat hy sonder redelike gronde opgetree het met die bedoeling om die eiser te benadeel en dat die vervolging misluk het.

Dit is belangrik om daarop te let dat die wetgewer ingevolge die Strafproseswet sekere beperkings geplaas het op die remedie van onregmatige inhegtenisneming en wel in artikels 46 daarvan. Artikel 46 bepaal naamlik dat iemand wat kragtens ‘n lasbrief tot inhegtenisneming gemagtig is om ‘n ander in hegtenis te neem en wat verkeerdelik ‘n ander persoon in hegtenis neem, is onthef van aanspreeklikheid ten opsigte van onregmatige inhegtenisneming.

2.3 Wat is my regte 

Elke persoon het ‘n grondwetlike reg tot vryheid. Hierdie reg kan slegs onder sekere omstandighede wettig ingeperk word deur arrestasie. Hieronder word ‘n uiteensetting gegee van wanneer ‘n persoon gearresteer kan word en wat sy regte is indien hy gearresteer word. Dit moet in gedagte gehou word dat hierdie handleiding ‘n basiese uiteensetting van die regsposisie en persone se regte weergee. Indien ‘n persoon gearresteer word, word aanbeveel dat hy so spoedig moontlik die dienste van ‘n regspraktisyn bekom.

2.4 Wanneer kan die SAPD n persoon arresteer met n lasbrief?

Normaalweg sal ‘n persoon gearresteer word op sterkte van ‘n lasbrief uitgereik deur ‘n landdros of ‘n vrederegter.

Waar ‘n arrestasie uitgevoer word op sterkte van ‘n lasbrief sal dit normaalweg wettige arrestasie daarstel. Dit kan wel later blyk dat die lasbrief op ‘n onreëlmatige of bedrieglike wyse bekom is wat die arrestasie dan onwettig sal maak. Hierdie aspek sal egter gewoonlik eers na die persoon se verskyning in die hof na vore kom.

Die persoon wat gearresteer word mag aandring dat die lasbrief aan hom getoon word en moet ingelig word van die rede vir sy arres.  

2.5 Wanneer kan die SAPD n persoon arrestreer sonder n lasbrief?

‘n Persoon kan in sekere omstandighede wettiglik gearresteer word sonder ‘n lasbrief.

‘n Lid van die Suid Afrikaanse Polisie Diens (die ‘SAPD’) kan ‘n persoon sonder ‘n lasbrief arresteer –

  • Wat in sy teenwoordigheid ‘n (enige) misdryf pleeg of poog om dit te pleeg.
  • Wat hy redelikerwys verdink ‘n Bylaag 1 misdryf gepleeg het:

Bylaag 1 misdrywe is onder andere die volgende:

  • Hoogverraad
  • Moord
  • Strafbare Manslag
  • Verkragting
  • Onsedelike aanranding
  • Menseroof
  • Roof
  • Aanranding wanneer ‘n gevaarlike wond toegedien is
  • Brandstigting
  • Inbraak by of betreding van ‘n perseel met die opset om ‘n misdryf te pleeg
  • Diefstal
  • Ontvangs van gesteelde goed wetende dat dit gesteel is
  • Bedrog
  • ‘n Sameswering, uitlokking of poging om enige van bogenoemde misdrywe te pleeg
    • Wat uit wettige bewaring ontsnap het of gepoog het om te ontsnap.
    • Wat in besit gevind word van goed wat die lid redelikerwys vermoed gesteelde goed te wees.
    • Wat by ‘n plek in die nag in omstandighede gevind word wat redelike  grond verskaf om te vermoed dat so ‘n persoon ‘n misdryf gepleeg het of op die punt staan om dit te pleeg.
    • Wat redelikerwys verdink word dat hy onwettiglik in besit is of was van vee of produkte.
    • Wat hom opsetlik by die uitoefening van sy pligte belemmer. 4

2.6 Wat is my regte as ek gearrestreer word?

Nadat ‘n persoon gearresteer is moet hy so spoedig moontlik na ‘n polisiestasie geneem word of na ‘n plek aangedui in die lasbrief.

‘n Persoon wat gearresteer is het onder andere die volgende regte ingevolge die  Grondwet en die Strafproseswet:

  • Die reg om te swyg en ingelig te word van sy reg om te swyg.
    • Hierdie reg sluit in dat die persoon geen verduideliking of inligting hoef te verskaf ten opsigte van die beweerde misdryf nie.
    • Die persoon moet egter op aanvraag sy naam en adres aan die SAPD te verskaf.
  • Die reg om nie verplig of gedwing te word om enige bekentenis of erkenning te maak nie.
    • Hierdie reg sluit in dat ‘n persoon nie gedreig, aangerand of gedwing mag word om enige iets te sê nie.
    • Indien hy wel gedreig, aangerand of gedwing was sal enige getuienis wat sodoende bekom is nie teen hom gebruik kan word nie. · Die reg om ingelig te word van die rede vir sy aanhouding.
  • Die reg om ‘n regspraktisyn van sy eie keuse te kontak en mee te konsulteer.
    • Die persoon moet onverwyld die geleentheid gebied word om sy regspraktisyn telefonies te kontak.
    • Die regspraktisyn mag hom by die Polisiestasie besoek en met hom konsulteer.
  • Die reg om deur die Staat op staatskoste van ‘n regspraktisyn voorsien te word indien dit andersins tot wesenlike onreg sou lei.
    • Dit vind gewoonlik eers plaas wanneer die persoon vir die eerste keer in die Hof verskyn.
    • Die landdros sal die persoon vra of hy verlang om aansoek te doen vir sodanige regshulp en hom dan die geleentheid bied om aansoek te doen. 5
  • Die reg om so gou as wat redelikerwys moontlik is, maar nie later as 48 uur na arrestasie, of die einde van die eerste hofdag na die verstryking van die 48 uur as die 48 uur verstryk buite gewone hofure of op ‘n dag wat nie ‘n gewone hofdag is nie, voor ‘n Hof gebring te word.
    • Hierdie reg hou in dat indien ‘n persoon byvoorbeeld op ‘n Vrydagoggend gearresteer word, die 48 uur eers op ‘n Sondagoggend sal verstyk en hy derhalwe eers die volgende Maandag in die Hof moet verskyn.
    • Gewone hofure is vanaf 9h00 tot 16h00.
    • Gewone hofdae is Maandag tot Vrydag, openbare vakansiedae uitgesluit.
  • Die reg om by die eerste verskyning in die Hof aangekla te word of verwittig te word van die rede vir die voortsetting van sy aanhouding.
  • Die reg om uit aanhouding vrygelaat te word indien die belang van geregtigheid dit toelaat. Hierdie reg sluit in die reg om vrygelaat te word op waarskuwing of op borgtog wat onder andere die volgende behels:
    • In die geval van sekere minder ernstige misdrywe, bv. aanranding (waar ‘n gevaarlike wond nie toegedien is nie) en diefstal, ontvangs van gesteelde goedere en bedrog waar die bedrag betrokke R2500.00 of minder is, kan die persoon voor sy eerste verskyning deur ‘n polisiebeampte met of bo die rang van onderoffisier op borgtog vrygelaat word.
    • ‘n Aanklaer kan ook ‘n persoon se vrylating op borgtog magtig vir onder andere die volgende misdrywe:
      • Openbare geweld
      • Strafbare manslag
      • Aanranding waar ‘n gevaarlike wond toegedien is
      • Brandstigting
      • Inbraak met die opset om ‘n misdryf te pleeg
      • Opsetlike saakbeskadiging
      • Roof, diefstal, bedrog of afpersing waar die bedrag betrokke nie R20,000.00 oorskry nie
      • Enige sameswering, aanstigting of poging om bogenoemde misdrywe te pleeg
    • Bogenoemde vrylating geskied in oorleg met die polisiebeampte belas met die ondersoek. Die polisiebeamptes en/of aanklaer mag weier om borgtog toe te staan indien hulle beswaar teen die verlening van borgtog het en die persoon sal dan tot sy eerste verskyning in die Hof moet wag om vir borgtog aansoek te doen.
    • ‘n Persoon is geregtig om by sy eerste verskyning om borgtog aansoek te doen en sal vrygelaat word indien die Hof van oordeel is dat die belang van geregtigheid dit regverdig.
    • Alhoewel daar normaalweg voorkeur aan borgtog-aansoeke verleen word, word die aansoek binne gewone hofure aangehoor en nie na-ure nie.
    • Die aanklaer mag aansoek doen vir ‘n uitstel van 7 dae om onder andere verdere getuienis te bekom en inligting te versamel en sekere ondersoeke uit te voer. Die persoon mag beswaar maak teen die uitstel en dit is in die Hof se diskresie om hierdie uitstel toe te staan of te weier. Indien die uitstel toegestaan word sal die persoon vir ‘n verdere 7 dae in hegtenis bly en nie geregtig wees om voor verstryking van die 7 dae ‘n aansoek om borgtog te bring nie.
    • Aangesien die SAPD ‘n gearresteerde persoon eers 48 uur na arrestasie in ie Hof moet laat verskyn, kan dit gebeur dat indien ‘n persoon op ‘n Woensdag na hofure tot ‘n Vrydag gearresteer word, hy eers die daaropvolgende Maandag in die Hof verskyn. Die persoon sal derhalwe wettig in aanhouding bly tot die Maandag tensy die samewerking van die SAPD verkry word om hom voor die verstryking van die 48 uur periode voor die Hof te bring.
    • Dit word geag in die belang van geregtigheid te wees om borgtog te weier vir ‘n persoon indien een of meer van die volgende gronde vasgestel word:
      • Waar daar die waarskynlikheid is dat die persoon die veiligheid van die publiek of enige persoon in gevaar sal stel of ‘n Bylaag 1 misdryf sal pleeg.
      • Waar daar die waarskynlikheid is dat die persoon sal poog om getuies te beïnvloed of te intimideer of getuienis te verberg of te vernietig.
      • Waar daar die waarskynlikheid is dat die persoon sal poog om sy verhoor te ontduik.
      • Waar daar die waarskynlikheid is dat die persoon die oogmerke of die behoorlike unksionering van die strafregstelsel sal ondermyn of in gevaar sal stel.
      • Waar in buitengewone omstandighede die waarskynlikheid is dat die vrylating van die persoon die openbare orde sal versteur. 7
      • Daar is verskeie faktore wat in ag geneem word wanneer bepaal word of een of meer van bogenoemde gronde aanwesig is. Dit word aanbeveel dat ‘n persoon onverwyld die dienste van ‘n regspraktisyn bekom indien hy gearresteer word en ‘n borgtog aansoek wil bring, ten einde alle relevante feite voor die Hof te plaas. Dit moet in gedagte gehou word dat vir sekere ernstiger misdrywe, soos bv. Moord en Roof, die Hof nieteenstaande die feit dat die polisiebeampte belas met die ondersoek of die aanklaer nie beswaar teen borg mag hê nie, steeds ‘n volledige borgaansoek moet hou en borgtog mag weier.
    • Indien borgtog deur die Hof geweier word, kan ‘n appèl teen die weiering van borg gebring word in die Hooggeregshof.
    • Indien borgtog toegestaan word, sal die persoon vrygelaat word op voorwaardes soos deur die Hof bepaal.

2.7 Wat is my remedies as ek onwettig gearrestreer is?

  • Hierbo is uiteengesit wanneer ‘n persoon met of sonder ‘n lasbrief gearresteer kan word. Indien dié voorskrifte nie nagekom word nie of die polisiebeampte wat die arres uitvoer en/of aansoek gedoen het vir die lasbrief onwettig, wederegtelik en/ of kwelsugtig opgetree het, is die arres en aanhouding onwettig.  
  • Waar die polisiebeampte vals inligting verskaf het in sy aansoek vir ‘n lasbrief, ‘n persoon gearresteer het met ‘n kwelsugtige doel om hom te straf en nie om sy aanwesigheid in die Hof te verkry nie, of gearresteer het wel wetende dat daar nie redelikerwys gronde vir sy arres bestaan nie, sal die arrestasie en aanhoudingonwettig wees.
  • Die persoon kan in so ‘n geval sivielregtelik skadevergoeding van die polisiebeampte en/of die Staat eis.
  • Ten einde te bepaal of die arres van ‘n persoon wettig was, word daar gekyk na die redelikheid van die polisiebeampte se optrede wat die arrestasie uitgevoer het of vir die lasbrief aansoek gedoen het.
  • Waar ‘n klaer opsetlik valse inligting verskaf het aan die SAPD op grond waarvan ‘n persoon gearresteer en/of vervolg is, kan so ‘n klaer ook sivielregtelik vir skadevergoeding meegebring deur die arrestasie en aanhouding en vir laster gedagvaar word. Daar kan ook strafregtelike klagtes teen so ‘n klaer gelê word van meineed en strafregtelike laster.
  • Indien die arres en aanhouding van ‘n persoon onwettig is, kan die Hooggeregshof genader word en ‘n interdik verkry word om die persoon vry te laat. Dit sal egter net in uitsonderlike omstandighede plaasvind waar daar bewys kan word dat die arres en aanhouding van die persoon onwettig is.
  • Waar die persoon vervolg word, en dit blyk dat die vervolging kwaadwillig was, kan die persoon enersyds ‘n eis vir skadevergoeding teen die Staat instel.
  • 13.8 Indien ek die klaer in n strafsaak is,welke getuienis kan ek aanbied ter strafverswaring? 
  • Die aanbied van getuienis ter strafverswaring berus grotendeels by die aanklaer. Dit staan egter die klaer in enige saak vry om relevante getuienis onder die aanklaer se aandag te bring en te versoek dat dit voor die Hof geplaas word.
  • Die aanklaer sal die getuienis op of ‘n informele wyse voor die Hof plaas of in sekere gevalle die klaer roep om getuienis daaroor aan te bied.
  • Die volgende faktore word normaalweg deur die Hof as strafverswarend in ag geneem:
    • Die skade wat die klaer gelei het.
    • Of die beskuldigde in ‘n vertrouensposisie met betrekking tot die klaer was.
    • Die aard en erns van die misdryf.
    • Of die misdryf gereeld voorkom in die Hof se jurisdiksiegebied.
    • Die mate van geweld en brutalitiet wat toegepas is tydens die pleging van die misdryf.
    • Of die misdryf beplan was.
    • Of die klaer ‘n hulpelose slagoffer was.
    • Stappe wat die klaer moes tref om soortgelyke misdrywe te voorkom weens die hoë voorkoms van die misdryf en die nadeel wat die klaer daardeur lei.
  • Indien skade aan die klaer se goedere berokken is of hy verlies van goedere gelei het ten opsigte waarvan die bedrag vasstaan en maklik bewys kan word, kan die klaer die aanklaer versoek om aansoek te doenvir ‘n skadevergoedingsbevel. Die Hof kan so ‘n bevel toestaan en so ‘n bevel het die effek van ‘n siviele vonnis teen die beskuldigde.
error: Content is protected !!